Ricus Nel

Ricus Nel



12 Oct 19:30 - 22:00 - Bloemfontein
Innie Skuur

Route

Kaartjies @R120 beskikbaar by Kiki Corner in langenhovenpark of bespreek by meerkatkolonie@vodamail.co.za

Ricus Nel is ‘n naam sinoniem met musiek wat lekker kuier, maar ook op al die regte maniere met jou hart gesels – iets wat uit een goue albumstatus op die volgende getuig.

Vingers wat ewe flink met ‘n pen as met ‘n allemintige 13 musiekinstrumente kan toor en sy growwe country-rock stem het dié 37-jarige sanger oor die verstek van net ‘n paar jaar in menige Suid-Afrikaner se hart, en musiekversameling, laat nesskop.

Hy het reeds op 4-jarige ouderdom sy eerste instrument, dromme, begin bespeel. Hy het later by sy pa-hulle se boereorkes aangesluit waar hy gedurende sy laerskool- en hoërskoolloopbaan verder kon skaaf aan sy instrumentale-, sowel as sy vokale vernuf. Hy onthou met ‘n glimlag dié “Lekker ou Jan”-tye as van die beste in sy lewe.




Nadat hy in 1998 matrikuleer het, het hy by ‘n platinummyn, ‘n tabak koöperasie en ‘n musiekwinkel gewerk terwyl hy, soos vele ander musikante, in kroeë gespeel het. Hy het uiteindelik in 2003 sy voet formeel in die deur van die musiekbedryf gekry as lid van Dozi se orkes by Hartebeespoortdam.

Hierna het hy sy talente geleen aan ‘n hele rits groot name se opvoerings, DVD-produksies en TV-reekse, wat Theuns Jordaan en Juanita du Plessis se duet-DVD, Bok van Blerk se orkes, KKNK, Skouspel, Innibos, ‘Dis hoe dit is met Steve’ en ‘Jukebox’ met Kurt Darren insluit. Hy het ook in Londen opgetree tydens die ou UKasie-fees en ook gehore in Australië, Kanada en die VSA bekoor met sy talent.

Ricus het sy eerste solo-album, ‘Sak en pak’, in 2011 vrygestel. Dit is met oorweldigende ondersteuning deur Suid-Afrikaanse gehore ontvang en het later goue status bereik. Dit is gevolg deur die vrystelling van ‘Sout van die aarde’ in 2013, ‘Ricus Nel sing Don Williams en ander country legendes’ in 2014 en ‘Ouskool Boerseun’ in 2016 – met beide laasgenoemde albums wat die goue kerf verbygesteek het.

Sy nuutste album, ‘Ricus Nel bring hulde aan Worsie Visser’, is ook oorgehaal om ‘n wegholsukses te wees met immergewilde kuiertreffers soos “Boesmanland”, “Gee die hond wind”, “Lekker ou Jan”, “Wikkel daai boude”, “Strandfontein”, “Gansbaai” en “Brannewyn laat my staan” wat op dié album pronk en ‘n hele rits optredes daarvoor reeds in die pyplyn.

Onlangse hoogtepunte wat hy graag uitsonder sluit optredes by Afrikaans is Groot, Krone, Innibos, sy CD-vrystelling by Weiveld en sy optrede by die Kierieklapperfees – saam met Bok van Blerk, Adam Tas en Refentse – in, sowel as sy benoemings by die Ghoemas vir ‘Beste manlike kunstenaar’ en ‘Beste kontemporêre album’ en ‘n SAMA-benoeming vir ‘Beste kontemporêre album’.

Een van die groot hoogtepunte van sy loopbaan tot dusver bly egter steeds om die wêreldbekende Air Supply - die Australiaanse duo wat in die 80’s bekendheid verwerf het met treffers soos ‘All Out of Love’, ‘Every Woman in the World’, ‘Lost in Love’ en ‘Making Love (Out of Nothing At All)’- in 2014 by die Grand West Arena in Kaapstad te kon inlei tydens hul wêreldtoer.

Ricus se vermoë om ‘n verskeidenheid genres – van country, tot rock en rock-‘n-roll, tot boeremusiek, opskop-sokkie en rustige lekkerluister-treffers – te kombineer met sy uitstekende sang- en speeltalent sorg vir ‘n kleurryke fees van klank en melodie wat by enige kuier, optrede en fees tuis sal wees!

Hy is, in sy eie woorde, “verslaaf aan rugby, braai, die bosveld en musiek luister.” Hy luister graag na Don Williams, Bryan Adams, Nirvana, Chris Stapleton en Coldplay.

Ricus se raad aan jong opkomende kunstenaars: “Maak musiek wat eg en opreg en eie is aan jou! Dis die heel belangrikste. Moenie ander mense probeer namaak nie. Sukses lê in die rou eerlikheid van jou musiek.



© 2018 Siguez